Johannes 3:16 – Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo,nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Ons as Christene hoor en sê altyd jy moet omgee vir ander, barmhartig wees, ensovoorts, en dit is reg so want, God se Woord sê dit vir ons. Ons moet wel ook eers waaksaam wees want jy sien, die duiwel ken ook die Woord en hy gebruik mense (wat ons dikwels vertrou) om die waarheid te verdraai. Ek en my vrou kry maklik mense jammer en voor ons onself kan kry is ons skielik in ‘n posisie waarvoor ons nie opgeteken het nie. Dan sit ons en gesels en besef dat die Here ons nie in die posisie gesit het as hy nie gedink het ons kan dit hanteer nie maar, die duiwel, hy doen dit graag.
Ek wil vandag vir jou sê, verlos eers jouself, kry jouself eers geestelik reg voordat jy ander mense probeer help. Sonder God se teenwoordigheid gaan jy sukkel om moeilike situasies te hanteer en verstaan. Wat ek gister geleer het – my prioriteite is my beginsel (God eerste, my familie tweede, en dan die res), en die oomblik wat ek fokus verloor is ek in die moeilikheid. Onthou altyd Filippense 4:13 – “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Daai ou engelse sê ding – “Charity begins at home” is goed van toepassing reken ek.
My gebed vandag is dat ek geestelik versterk word, God se stem hoor en in gehoorsaamheid met Sy wil sal wandel, nooit sal twyfel nie, dat ek ‘n voorbeeld sal wees van ‘n kind van Christus en dat ek vandag beter sal wees as gister.