Leuens

Openbaring 12:9 – En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.

As ons bietjie gaan rondkyk wat om ons aangaan is dit maklik om te sien die duiwel is oral aan die werk. Staatskaping, bedrog, plundery en so kan ons aangaan. Dit is alles maar deel van die mentaliteit dat die wêreld ons iets skuld – en dit is die leuen wat satan ons vertel, en ons glo dit. Hierdie tipe mentaliteit dat ons ‘n beloning verskuldig is wat ons nie verdien of voor gewerk het nie.

In Spreuke 12:24 lees ons “Die hand van die vlytiges sal heers, maar traagheid lei tot dwangarbeid”. Jy sien God beloon die een wat hard werk. Gaan vandag uit doen jou werk tot die beste van jou vermoë sonder twyfel, dan sal die Here jou seën. Waak teen die leuens van die wêreld, wanneer jy onseker is, bid tot God vir wysheid en hy sal jou dit gee.

Spreuke 13: 11 – Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaar maak, kry altyd meer.