Vertroue en vriendskap

Psalm 118: 8 – Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou.

Jeremia 17: 7-8 – Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue in die Here is. Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.

Hierdie is ‘n situasie waarmee ek persoonlik baie sukkel. Ek is geneig om te maklik te vertrou en dan is ek gewoonlik die een wat teleurgestel word. Jy weet, daardie vriende wat jou ken wanneer hulle iets nodig het. Eintlik is dit baie eenvoudig – of is dit? Jy sien die Here sê hier vir ons dat ons op hom moet vertrou want mense gaan ons teleurstel. Nou hoe nou? Gaan ons nou ophou om “Mr. Nice guy” te wees? Nee.

Jy sien, ek het die besluit gemaak dat maak nie saak hoeveel keer ek teleurgestel word nie ek gaan aanhou om goed te doen. Nie om enige iemand te “impress” nie, nee, ek gaan aanhou goed doen omdat God dit van my verwag. Ek doen dit nie vir myself nie ek doen dit alles vir Jesus, wat ook vir my sondes aan die kruis gesterf het.

Ek vertrou elke dag dat die Here my sal lei en beskerm. Hoe kan ek tog verwag om genade, seën en verlossing te ontvang, as my eie hart vol kwaad en bitterheid is? Gaan uit, leef in geregtigheid en wees barmhartig, gehoorsaam en goed, dan sal die Here jou ook seën.