Galasiërs 5:16 – Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.
Wat begeer jy?
Kyk, ek is nie ‘n pastoor, dominee of teologie student nie maar, wat ek wel kan sê is dat ek die laaste jaar baie geleer en gegroei het. Elkeen van ons moet weet wat ons begeerte is en ook dan ‘n bietjie introspeksie gaan doen en besluit of jou begeerte Geestelik of vleeslik is.
Wat ek verstaan hieruit is dat die vleeslike begeertes gepaard gaan met sonde. Hoekom sê ek so? Jy begeer dalk ‘n mooier, groter, beter huis, voertuig, leefstyl, ens. Is dit dinge wat jy kan saam vat Hemel toe? Nee, dit is nie. Ek sê nie dat as jy hierdie dinge het dit sonde is nie want, die Here gee elkeen van ons wat hy ons mee kan vertrou.
My begeerte daagliks is om elke dag te groei en beter te doen as die vorige dag. Ek begeer dat ek gevul sal word met die Heilige Gees om elke dag reg te handel en te wandel. Ek begeer wysheid en gehoorsaamheid sodat ek sal weet wanneer die Here met my praat. Ek het ‘n begeerte om die Here te ontmoet, Sy stem te hoor en om diensbaar te wees vir Sy werke.
Wandel deur die Gees – Ons lewenshandel, dit wil sê ons hele lewe, jou doen en late, moet kom onder die heerskappy van die Heilige Gees. As ons ons so laat beheers deur die Heilige Gees, sal ons – as gevolg daarvan – nooit die begeerlikheid van ons vlees (sonde) volbring nie.